Daar is mense wat so dink.
Dat álle siekte die gevolg is van sonde.
Skynbaar is dit ook hoe die dissipels geredeneer het.
Hulle vra in Johannes 9:2:
“Rabbi, deur wie se sonde is dit,
dat hierdie man blind gebore is?”

Maar Jesus het gesê:
“Dit is nie deur sy eie sonde en ook nie deur sy ouers sin nie.”
Ons kan nie gerieflik en eenvoudig redeneer,
dat alle siekte se oorsaak sonde by my, of iemand naby aan my is nie.

Veral emosionele siektes word dikwels op kortsigtige wyse so veroordeel.
Fisiese siektes word redelik aanvaar,
maar daar is om een of ander rede, by sommige mense,
‘n stigma verbonde aan emosionele of sielkundige siektes.
Vivian Clarke vertel van ‘n bespreking wat gehou is oor die vraag:
“Is Depressie Sonde vir die Christen?”
Iemand het gesê omdat dit nie saam met die vrug van die Gees,
vreugde, kan bestaan nie, moet dit sonde wees.
Nog ‘n standpunt was dat daar geen rede vir ‘n Christen is om depressief te wees nie.

Natuurlik kán emosionele probleme deur sonde veroorsaak word.
Maar almal van ons sondig, en nie almal is depressief, of emosioneel siek nie!
Die oorsaak van geestessiektes is kompleks,
net soos dit ook dikwels baie moeilik is om ‘n diagnose te maak,
wat die oorsaak is van sommige fisiese siektes.

Dit is egter alreeds uit die woorde van die Here Jesus duidelik:
Alle siektes is verseker nie die gevolg van sonde nie!

Moenie mense so beoordeel of veroordeel nie.
Die Here vra liefde, begrip, en gebed, vir siek mense.

Ernest