Paulus skryf hierdie insiggewende teks,
oor ons en ons probleme in hierdie wêreld:
“Daarom praat ons met trots van julle in al die gemeentes…
en vertel….van julle volharding en geloof onder al die vervolging…
wat julle moet verduur.” 1 Tessalonisense 1:4.
Die ergste van alles is dat hierdie gelowiges in hierdie vervolging en krisisse is,
juis omdat hulle voluit vir die Here leef!
Die menslike liggaam bestaan blykbaar uit ongeveer 10 triljoen selle!
Hierdie selle huisves blykbaar ongeveer 100 triljoen bakterië.
‘n Klein stukkie vel, so groot soos ‘n geldstuk,
kan soveel as ongeveer 2 miljoen bakterië bevat!
Ongeveer!...want dit klink ontelbaar en onwaarneembaar.
Die teenwoordigheid van al hierdie bakterië,
mag lyk of hulle ‘n ontsettende gevaar vir ons gesondheid inhou.
Maar wetenskaplikes sê ons sal veel sieker wees sonder hierdie bakterië,
as met hierdie bakterië!
Blykbaar beveg die goeie bakterië die slegte bakterië wat siektes veroorsaak.
Dit gee ‘n interessante parallel met die situasie waarin
ons as Christene ook in hierdie wêreld is.
In teenstelling met wat ons waarskynlik dink,
is ons beter af in ‘n vyandige omgewing,
as wat ons sou wees in ‘n situasie waar alles net mooi en positief loop.
God roep ons om geduld , liefde, hoop,en geloof in hierdie wêreld uit te leef.
Juis in ‘n wêreld wat besmet is met sonde en ongeregtigheid.
Baie van die probleme waarmee ons daagliks te kampe het,
help ons om groter moeilikhede te vermy,
soos selfgenoegsaamheid, hoogmoed, en onafhanklikheid van God.
Dit is alles gesindhede wat geneig is om na vore te kom ,
wanneer alles net voorspoedig gaan.
Die probleme wat ons daagliks moet hanteer,
dra by tot ons geestelike welsyn en groei,
omdat ons ons afhanklikheid van God beleef.
Ons is inderdaad gesonder, en sterker, en groei meer in die Here,
mét ons probleme as sónder ons probleme!
Ernest