Jesus sê in Johannes 14:6 Hy is die waarheid.
Dit het belangrike implikasies vir ons daaglikse lewe.
Elkeen wat Jesus gevind het, het die waarheid gevind.
Elkeen wat Hom nog nie gevind het nie, bou sy lewe op ‘n leuen.
Een of ander tyd sal dit onder hom verkrummel…
Nou of hierna….
As Christen is jy ‘n beelddraer van Christus.
Waarheid moet een van die kenmerke van jou lewe wees.
Miguel De Cervantes het gesê:
“Waarheid styg bokant valsheid uit,
soos olie bo water.”
Alles kan nagemaak word, behalwe die waarheid.
Francis Bacon het hierdie treffende ding gesê:
“Wat is die waarheid?...het Pilatus sinies gevra,
maar nie die moed gehad om vir ‘n antwoord te wag nie.”
Die waarheid, Jesus, het in lewende lywe voor hom gestaan!
Waarheid is noodsaaklik om in verbondenheid met die Here te lewe.
Dit is onmoontlik om met ‘n valse hart, wat nie eerlik en opreg is nie,
in verbondenheid met die Here te lewe.
In Psalm 15:1-2 se die Woord,
dat die wat met hul hele hart die waarheid praat,
in die teenwoordigheid van die Here moet kom.
In Romeine 9:1 sê Paulus:
“In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid.”
Vir die Samaritaanse vrou sê Jesus dat die Vader mense soek
wat Hom “deur die Gees en in waarheid aanbid.”
In die geestelike stryd moet ons ook “die waarheid as gordel”
om ons heupe bind, as deel van ons wapenrusting. Efesiërs 6:14.
Om “in alle opsigte” te “groei na Christus toe”,
is dit nodig om “in liefde by die waarheid te bly.” Efesiërs 4:15.
Sonder waarheid is geestelike groei tot volwassenheid nie moontlik nie.
In Jesus se treffende gebed in Johannes 17 bid Hy twee keer dat
sy volgelinge aan die Vader toegewy sal wees,
deur die waarheid. Johannes 17:17.
Jesus, wat die waarheid is, sê in Johannes 8:31-32:
“…julle sal die waarheid ken,
en die waarheid sal julle vrymaak.”
Leef die waarheid !...
in verbondenheid met Jesus wat sê:
“Ek is die waarheid…”
Ernest