Die derde belangrike ding wat Jesus in Johannes 14:6 sê,
is dat Hy die lewe is.
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”
Johannes 14:6.
Jesus het by twee geleenthede gesê dat Hy die lewe is.
Na die begrafnis van Lasarus, sê Hy aan Marta:
“Ek is… die lewe” en Hy voeg by:
“Wie in My glo sal lewe, al sterwe hy ook,
en elkeen wat lewe en in My glo,
sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”
Johannes 11:25-26.
Lewe word direk met Christus verbind.
Buite Christus om bestaan mens, jy kan biologies lewe,
maar jy besit nie die ware lewe nie.
Die enigste manier om die ware lewe te besit,
is om in Christus aan God verbind te wees.
Daarom sê Jesus ook in die res van vers 6:
“Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”
In Filippense 1:21 sê Paulus:
“…om te lewe is vir my Christus.”
Die woorde “vir my” dra besondere betekenis.
Dit is asof hy wil sê:
Vir ander mense mag om te lewe baie ander dinge beteken.
Maar vir my is om te lewe Christus.
Dit is ‘n persoonlike belydenis.
Dit is ‘n persoonlike ervaring.
Dit is nie net ‘n mooi lewensideaal nie.
Hoe sou jy dit wou sê ten opsigte van jou eie lewe.
Om werklik te lewe,
word daarom ook nie deur uiterlike omstandighede bepaal nie.
Lewensvervulling is die wete dat God ‘n werklike doel het met jou lewe,
en dat daardie doel vervul word, bepaal of jy werklik lewe!
As jy, soos Jesus, in ‘n lewende verhouding met God die Vader is,
lewe jy ondanks jou omstandighede.
“Ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees”, sê 1 Joh.3:2.
Dit is waarheen ons op pad is, as Jesus ons lewe is!
Ons moet die ware lewe leef,
en dit so met mense gaan deel,
en hulle lei na Christus,
wat die weg en die waarheid en die lewe is!
En deur Hom, kan hulle dan na die Vader kom!
Ernest