Wanneer Jesus oor Homself sê: “Ek is……”,
soos ons gesien het in “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”,
is dit nie iets wat Jesus self “uitgedink” het nie.
Dit sluit aan by God se Naam: Ek is.
Deur hierdie uitsprake toon Christus nie net aan hoé Hý is nie.
Hy toon ook aan hoé die Vader is.
Want wie Hom sien, sien ook die Vader. Joh. 14:9.

As jy God aanbid, kniel jy voor dié God, met die wonderlike Naam:
Ek is.
Ook hierdie besondere Naam:
Ek is wat Ek is,
moet geloof word!
Ek is wat Ek is,
beteken ook dat een ding vasstaan:
God was van altyd af daar, is nou hier,
en sal vir altyd daar wees!
Niks kan Hom verander of vernietig nie.
Hy is die ewige: Ek is.

Ons klein verstandjies kan dit nie vat nie.
Ons is gebonde aan ons eie tyd, ruimte, en omstandighede.
Maar geloof is juis om daarvan oortuig te wees,
en met vertroue jou hele toekoms daarop te bou.

Net voor Israel se verlossing uit Egipte,
stel God homself bekend as: Ek is wat Ek is.
Net voor die verlossingswerk van Christus aan die kruis,
word Christus bekend gestel as: Immanuel !
Die eerste Naam dui op God se grootheid, ewigheid en almag.
Die tweede Naam dui op God se liefde, mededoë en genade.
Dit vul jou met dankbaarheid.

Aanbid God ook met die wete dat hierdie Naam so baie sê:

Ek is wat Ek is!

Ernest