Dissipelskap beteken om regtig jou oortuigings uit te leef,
soos die Gees jou lei!
Dit vra nie van ons almal presies dieselfde nie,
want dit verskil ten opsigte van jou omstandighede,
of die bepaalde roeping wat God joú gee.
Maar dat jy koste moet bereken,
en opoffer vir die Here, is verseker.

Dissipelskap is nie om rond te sit nie,
maar aktief besig te wees,
met die oortuigings wat die Here jou gee om te doen!

Neem die lewe van John Woolman (1720-1772).
Hy het daarin geslaag om slawerny afgeskaf te kry,
in die Quaker-gemeenskappe baie jare voór die Amerikaanse burgeroorlog.
As toegewyde volgeling van die Here Jesus,
het hy besef slawerny stroop mense van hulle menswaardigheid.
Dit was vir hom lynreg in stryd met Christelike beginsels.
Hy het besluit om daadwerklik iets daaraan te doen.
Hy het oral daarteen gepraat en gepreek.
As doodgewone kleremaker het hy opgestaan vir slawe.
Hy het geweier om kos te eet wat deur hulle voorberei is.
Hy het geweier om iets gratis van slawe te ontvang,
sonder om daarvoor te betaal.
Hy wou hulle telkens persoonlik ontmoet en hulle vergoed.

Maar dit is presies wat dissipelskap is.
Om jou oortuigings in die Here uit te leef.
Woolman het die prys bereken en geweet hy sal verseker nie gewild wees nie.
Maar hy het sy oortuigings konsekwent uitgeleef.
Hy het sy eie gerief en veiligheid opgeoffer vir sy oortuigings.

Ons moet bereid wees om ons lewe op die spel te plaas vir ons oortuigings.
Ons moet weer Jesus se woorde in Lukas 14:28 ernstig opneem.
Gaan sit en bereken die koste van dissipelskap,
en gaan leef dan uit jou Godgegewe oortuigings,
konsekwent!

Ernest