Oor gebedsverhoring sê die Here in Matteus 7:7:
“Vra en vir julle sal gegee word…”

Ons kan so maklik dan net selfsugtig vra.
Ons dien as’t ware onsself deur ons gebede!
Ons is baie daarop ingestel om goed gedien te word.
En goed bedien te word,
veral as ons daarvoor betaal, soos in ‘n eetplek.

Maar wanneer ons op die Here se terrein van diens is,
dan draai Hy dit heeltemal om!
Dan gaan dit nie oor hoe ander ons behandel nie,
maar oor hoe ons hulle behandel.
Dit gaan nie oor “wat is in dit vir mý nie”,
maar oor hoe ek dien, en “hoe is my dien van jou?”

Die belangrikste hoe ons ander kan dien is om vir hulle te bid.
In hul afwesigheid, of teenwoordigheid.
Wanneer jy vir ander mense bid,
dan staan jy jou plek voor in die ry voor God af, vir hulle!
Ons moet doelbewus kies om nie elke keer vir ons eie behoeftes te bid nie.
Ons moet opreg intree vir ander mense en hul behoeftes en nood.
Om ander mense so hoog te ag,
dat ons hulle op ons skouers tel voor God,
en namens hulle smekend en met danksegging voor God staan!

Ons moet leer om ook nederig uit die pad te staan,
sodat God se seëninge, troos en nabyheid hulle kan bereik.
So dra ons biddend by tot die gebed “laat U koninkryk kom”.
So beleef ons ook dat God se oorvloedige goedheid
vir die hele wêreld bedoel is.
Kom ons bid vir ander mense,
en dra hulle so na die aangesig van die Here se genade en seën.

Ernest