Elisa was ‘n baie belangrike persoon.
In vandag se terme ‘n BBP.
Naäman het uit Aram gekom,
sodat Elisa hom van melaatsheid kon genees.
Dramatiese oorlog reddingsdade het ook deur hierdie profeet plaasgevind.

Op ‘n dag was Elisa by die kweekskool van jong profete.
2 Konings 6:5-6.
Die jong profete nooi hom saam na die Jordaanrivier waar hulle hout moes kap.
Daar val een van die studente se geleende byl in die water!
Die student roep in sy nood na die profeet Elisa:
“Ag tog, Meneer, en dit was boonop ‘n geleende byl!”
Elisa het gevra waar die byl ingeval het.
Die profeet het toe ‘n stuk hout afgekap en daar ingegooi.
Dit het die byl bo laat dryf!

Baie BBP’s sal die rug draai en aan “groter sake” aandag gee.
Maar Elisa raak betrokke by die nood en probleme van die geringstes.
Net soos Jesus gedurende sy bediening op aarde.

Baie mense het vir hulleself baie belangrike BBP’s geword.
Vir die meeste van ons, is onsself die belangrikste BBP wat ons ken…
Ons het dikwels “baie belangriker sake” om aan aandag te gee,
as die mense wat in nood na ons roep.

In Matteus 25:40 sê Jesus:
“Dit verseker Ek julle:
Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het,
het julle dit aan My gedoen.”

En in vers 45:
“Dit verseker Ek julle:
Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie,
het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”

Hoe ‘n belangrike BBP het ek in my eie oë geraak?......

Ernest