Stilte in die natuur is kosbare kragtye.
Om op ‘n koue winteroggend uit te stap in die Karoo-landskap,
en die silweragtige ryp te sien,
wat in die nag oor die landskap gekom het,
en met onsigbare vingers die landskap aangeraak het.
Of om langs ‘n dam te gaan sit en die kringetjies op die water te sien.
Goggatjies wat geluidloos oor die water rondhardloop.
Lewe in die stiltes van die skepping.
Ons sal kan aanhou voorbeelde noem…
Die stiltes in sulke oomblikke,
laat jou gedagtes koers kry na Psalm 46:11:
“Bedaar en erken dat Ek God is.”
Of Habakuk 2:20:
“….almal op aarde moet in Sy teenwoordigheid stil wees.”
Die Here praat ook in ander stil tye met ons.
Soms kan ons nie in die nag slaap nie.
Dalk as gevolg van siekte, bekommernis, hartseer, of eensaamheid.
Hierdie stil tye kan van die kosbaarste kragtye wees tussen ons en die Here.
In die stilte hoor ons God “anders” as in die jaagtye.
Ons beleef ‘n “ander” vars bewussyn van sy teenwoordigheid.
Om alleen te wees met stilte,
is om naby te wees aan God!
Moeder Teresa van Kalkutta het gesê:
“Ek weet God is ‘n vriend van die stilte –
want kyk hoe groei die bome en blomme en gras in stilte.
Kyk hoe geruisloos beweeg die maan,
en die son en die sterre oor die uitspansel.”
Ontdek God se krag in stilte…..
Ernest