Die Here Jesus het die evangelie op wonderlik eenvoudige wyses verduidelik.
Hy het daaglikse aktiwiteite van die lewe gebruik om die boodskap van lewe te bring.
Soos om te eet en te drink….

Tydens ‘n evangelisasiediens in ‘n klein dorpie,
het ‘n man besef hy het die Here nodig.
Hy het dit egter weggesteek, ook vir sy eie vrou wat al die Here gedien het.
Een aand toe sy weer ‘n diens bygewoon het,
het hy van geweldige onrustigheid op en af in die huis geloop.
Sy dogtertjie het gevra wat fout is, maar hy het gesê niks is fout nie.
Die kind sê toe in alle eenvoud:
“Pappa, as jy dors is, drink jy mos water, nie waar nie?”

Haar woorde het hom soos ‘n weerligstraal getref.
Hy het besef hoe dors sy siel is.
Hy het onthou die boodskap was dat die evangelie soos water is,
wat jou ewige dors les en wat lewe gee.
Hy het net daar oorgegee en sy lewe vir die Here gegee.
Niks kan ons ware dors les nie, behalwe die Here self.

Daarom het die Here in Johannes 4:14 gesê:
“Wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee,
sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.”

En daarom Jesus se uitnodiging in Johannes 7:37:
“As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”

Kom les keer op keer jou dors by Hom!
Keer op keer.

Ernest