Om teen die stroom te wees is nie waaroor dit gaan nie.
Party mense is eenvoudig altyd stroomop.
Gewoon net moeilik en selfsugtig.
Maar gelowiges gaan ook nie net saam met die stroom nie.
‘n Gelowige doen nie wat “almal” doen nie.
‘n Voorbeeld is Samuel wat in die tempel bly en werk.
Hy werk onder die priester Eli.
En dan is daar Eli se twee seuns, wat doen net wat hulle wil.
1 Samuel 2:12 sê:
“Maar Eli se seuns was slegte mense;
Hulle het nie met die Here rekening gehou nie.”
Dit moes nie vir Samuel maklik wees nie,
om die regte dinge te doen met Eli se twee seuns in die omgewing nie.
Hulle maak asof die Here nie belangrik is nie.
Hulle moes onteenseglik druk op Samuel plaas.
Maar Samuel het die Here gedien, sê 1 Samuel 2:18.
Hy het geweet dat die Here hom goedgesind is.
Dit is die verskil tussen mense.
Hy kan nie anders nie, as om die Here te dien.
Hy weet hoe goed die Here vir hom is,
en daarom leef hy vir die Here.
Of jy vergeet van die Here se goedheid en genade vir jou,
en jy leef soos jy wil.
Jy hou nie rekening met die Here nie!
Dink weer hoe goed die Here regtig vir jou is.
Dit sal bepaal of jy maar net saam met die stroom gaan.
Of nie.
Ernest