In Galasiërs 1:23 skryf Paulus oor hoe hy vroeër die Christene vervolg het,
maar nou bring hy die goeie nuus aan hulle!
“Al wat hulle van my geweet het, was die volgende brokkie nuus:
“Daardie man wat ons vroeër vervolg het,
verkondig nou die evangelie.
Hy praat nou met ander mense oor die geloof,
wat hy vroeër probeer uitroei het.”
Eers het Paulus Christene fanaties vervolg.
En dit omdat hulle verkondig het dat God in Christus alle mense liefhet.
Paulus ken die skrifte en weet van die gebeure met Rut, Jona, en Ragab.
Hy weet dat God alle mense oor alle grense liefhet.
Wat is dan sy probleem?
Sy probleem is ons almal se probleem!
Dit is een ding om iets te weet.
Dit is ‘n ander ding om dit uit te leef!
Die oorlog tussen jou kop en jou hart.
Die oorlog tussen weet, en leef.
Dit is ‘n verwoede oorlog.
Dit is die langste reis wat ons moet onderneem.
Die reis van jou kop na jou hart.
Totdat jy die reis voltooi het,
kap ons soos gewonde katte na mekaar.
Leef ons soos vasgekeerde diere.
Wanneer die reis tussen kop en hart voltooi is,
is ons soos Paulus gereed om God se boodskap te dra.
Dan begin ons waarlik alle mense liefhê.
Is jou verhouding met God ‘n kop-ding?
Of is God in jou hart?
Ernest