Min dinge beïnvloed ons lewe soveel soos groepsdruk.
Ons sal dit nie altyd erken nie, maar wil tog graag “in” wees!
Groepsdruk opsigself is nie negatief nie.
Ons kan juis deel wees van positiewe groepsdruk.

Handelinge 5:29 gee ‘n belangrike waarheid:
“…’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense.”
Die wil van God is wat tel, of ek “in” of “uit” is.

Jeremia is ‘n goeie voorbeeld.
In Jeremia 15:17 lees ons:
“Ek kon nie sit waar daar gesels en gelag word en dit saam geniet nie;
U het my in besit geneem en ek moes alleen sit,
vol van die verontwaardiging wat van U af kom.”

Jeremia wou ook seker graag “in” wees.
Maar nou het daar ‘n groot verskil gekom tussen hom en die groep.
Jeremia dien die Here!
En toe kom hy agter,
as hy gehoorsaam is aan die Here,
is hy nie meer welkom by die groep nie.
Hulle bly stil as hy naderkom en hulle vermy hom.
Hy moet alleen sit, en dit is nie lekker nie.

Wat sê die Here daarvan?
Jeremia, jy moet dit verwag.
Jy neem nou leiding in die wil van God!
Dit maak jou nie altyd gewild nie.
As kind van die Here,
sal jy eenvoudig in sekere groepe nie welkom wees nie.
As jy nie in jou groep ‘n kind van die Here kan wees nie,
vorm of soek ‘n ander groep, wat saam die Here dien.

“…’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense.”

Ernest