Jy kan!
Jy hoef nooit daaroor te twyfel nie.
Moenie vir ‘n oomblik eers daaroor huiwer nie!
God wat sê dat jy jouself as lewende offer vir Hom moet gee,
omdat Hy homself al van altyd af vir jou gegee het,
sal elke treë verder saam met jou gee.

Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, gaan Hy na die Vader toe.
Maar Hy los ons nie agter sonder sy krag en hulp nie!
Hy belowe in Handelinge 1:8:
“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom….!”
Dit is dieselfde krag van die Gees wat Hom uit die dood laat opstaan het!
Daardie krag werk nou in jou as gelowige!
En die dissipels, wat eers bang was om oor Jesus te praat,
getuig nou met die Gees se krag.

Selfs in die heel grootste krisis waarin jy kan wees,
en selfs as jy daarin moet sterf,
sal jy dit nog steeds deur die krag van die Gees kan doen!
Kyk wat gebeur met Stefanus.
Die mense is besig om hom met klippe dood te gooi,
oor sy geloof in Jesus Christus, en sy getuienis vir Hom.
En wat bid hy?
“Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie”.
Hy bid net soos Jesus toe Hy aan die kruis was!, in Lukas 23:34.
Hoekom kon hy dit so bevrydend bid soos Jesus?
Kyk wat staan in Handelinge 7:55:
“Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees,
het opgekyk na die hemel,
en die heerlikheid van God gesien,
en Jesus wat aan die regterhand van God staan.”
Die Gees maak Stefanus se oë oop om te sien,
Jesus staan by hom.

Jy kan jouself volledig gee!
Jy sal nooit alleen staan nie!
Jesus staan by jou!

Die Heilige Gees is ook die waarborg daarvan:
“Die Heilige Gees is die waarborg,
dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het.”
Efesiërs 1:14.

Gee jouself!

Ernest