Ons almal het soms ‘n ongesonde trots,
wat vierkantig in die pad van liefde staan.
Ego-harte , soos stout kinders,
wat aan die stry raak oor wie die belangrikste is.
Die dissipels het dit ook gedoen!
Jesus knip hul gesprek kort deur te sê;
die wat die geringste lyk,
is in God se oë die grootste.
God gee genade aan die nederiges,
maar Hy staan die hoogmoediges teë.
Ons moet klein word in onsself, en groot in liefde.

Galasiërs 5:25 sê:
“Die Gees het ons splinternuut gemaak.
Daarom moet ons toelaat dat Hy elke dag ons lewens bestuur.
Hy moet besluit wat ons dink en sê en doen.
Kom ons hou dadelik op om so baie van onsself te dink.”

Wees eerlik.
Elkeen van ons het ‘n bepaalde trots.
En natuurlik is elke mens belangrik in God se oë.
Maar ongesonde trots laat selfsug oorneem, ongeduld,
meerderwaardigheid, en jaloesie.
En liefde skuif op die agtergrond.

Wanneer jy lees wat Paulus hier in Galasiërs sê,
dan pleit hy dat ons ons eie gedrag mooi in oënskou moet neem.
Ons moet wegkyk van onsself af en ander mense in ag neem.
So plant ons liefde in ander se lewe.

Gelukkig het ons die Hielige Gees ontvang wat in ons leef.
Hy verander ons hart keer op keer, maak ons telkens weer nuut,
en keer ons ego-harte om.

Ernest