Wanneer Paulus as gevangene na Rome moet gaan,
beteken dit ‘n lang seereis deur gevaarlike storms.
Later kom hulle op ‘n plek met die naam Mooi Hawens.
Hulle wil verder reis, maar Paulus waarsku hulle.
“Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees.” Hand. 27:10.
Hulle luister nie.
Daarom vaar hulle uit en Paulus moet noodgedwonge saam.
“Maar dit was nie lank nie,
toe waai daar ‘n stormwind van die land af…”. Hand. 27:14.
Dinge lyk sleg.

Om God te dien beteken om die waarheid te praat en te waarsku,
al wil mense dit nie hoor nie en hul eie koppe volg.
Dit beteken baie keer ook dat jyself in die situasie gedompel word,
teen jou wil en sin.
Hulle plaas jou saam met hulle in die moeilikheid.
God kon keer dat Paulus verder saamvaar.
Maar Hy wil hom juis op die boot gebruik.

Dit gaan so woes dat die manne die vrag begin oorboort gooi.
Later is hulle moedeloos en wil nie eers meer eet nie.
Dan praat Paulus met hulle:
“Hou moed. Niemand van julle sal sy lewe verloor nie.” Hand.27:22.
Die Here wys vir Paulus wat Hy gaan doen.
Omdat Paulus weet wat God gaan doen, kan Hy hier vir Hom getuig!
Paulus sê hulle moet juis eet om krag te kry, want hulle gaan gered word.
“Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem,
God in die teenwoordigheid van almal gedank,
dit gebreek en begin eet.
Hulle het almal moed geskep en self ook begin eet.” Hand. 27:35-36.
Die Here gebruik ons juis ook in moeilike tye,
om Hom te verteenwoordig by mense in nood.
Ons kan nie eenkant gaan sit en sê:
“Ek het julle mos gesê” nie.
Ons moet steeds God verteenwoordig.
In waarskuwing,
en in bemoediging en hulp,
al wou die mense nie luister nie!

Ernest