Paulus het ons kom help deur vir ons te sê
wat godsdiens nié is nie, en te sê wat godsdiens wel ís.
Godsdiens is nie om goeie goed te doen om God en mense te beïndruk nie.
Jy hoef nie, en kan God nie beïndruk nie.
God het jou al liefgehad voor jy enige iets kon doen,
en God het jou steeds lief al doen jy ook verkeerde dinge.
Romeine 5:8 sê:
“Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin,
dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Daarom praat Paulus met ons op grond van God se ontferming oor ons,
en nie op grond van wat ons doen nie.
God kom in sy liefde na ons toe en ontferm Hom oor ons.
Wat ís ware godsdiens dan?
Romeine 12:1:
“En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers,
op grond van die groot ontferming van God:
Gee julleself aan God….”
Om jouself vir God te gee, sê Paulus,
is “die wesentlike van die godsdiens wat julle moet beoefen”.
Daarsonder kan jy nie die Here dien nie.
Godsdiens is nie om dinge vir God te doen,
vir die “voordeel” wat ek daaruit kan kry nie.
Godsdiens is om jouself te gee omdat jy God liefhet,
wat jou eerste liefgehad het.
Waarom dien ek die Here?
Hierdie vraag moet ek krities vir myself vra.
En ek moet eerlik wees met die antwoord aan God en myself.
Gaan dit volledig oor Hom,
of ook vir wat ek daaruit kan kry?
Gee jouself sonder om enige iets terug te verwag!
Ernest