Wat gebeur wanneer jy jouself vir God gee?
Jy dink dadelik dat jy nou ‘n klomp goed vir die Here gaan doen.
“Ek gaan dit….en ek gaan dat….”
Paulus sê nie so haastig nie…
Voor jy iets vir God doen, doen Hy iets vir jou.
Romeine 12:2:
“Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”
God leer jou eers heeltemal anders dink!

In ons manier van dink is ék belangrik.
Ek gaan dit en ék gaan dat….
Ons is eintlik gefokus op wat ék vir die Here gaan doen.
Daarom spring ons ook met die beste bedoelinge weg met die “ék gaan….”
En gou word godsdiens nou weér wat ék gaan doen!
Ek vergeet wat God alles doen!
Eers as God ons denke verander,
sal ons kan onderskei wat die wil van God is. Rom. 12:2.

Eers nadat God my gelei het om anders te dink, kan ek anders doen.
Die dinge wat ons anders moet leer doen, is nie maklik nie.
Ons kan dit net regkry as God self ons anders laat dink.
Net God gee ons onderskeidingsvermoeë,
om te onderskei wat regtig die wil van God is.

Gee jouself dan ook só:
Laat toe dat God jou verander deur jou denke te vernuwe,
sodat jy nuut kan dink en doen!

Ernest