Waarom laat God toe dat ons ook swaarkry?
Hy neem byvoorbeeld sy volk vir veertig jaar in die woestyn in,
voordat Hy hulle na die beloofde land neem.
En dan sê Deuteronomium 8:2:
“Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank
in die woestyn gelei het.
Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word,
en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink….”
Vers 3: “Hy het jou laat swaarkry….Hy het dit gedoen om jou te leer,
Vers 5: “Jy moet diep in jou hart weet:
Soos ‘n man dissipline by sy seun kweek,
so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.”
Nederigheid beteken dat ek weet ek kan nie sonder God lewe nie.
Ek weet ek is van God afhanklik vir letterlik alles!
Dink net hoe sou die volk groot dink oor hulleself en God vergeet,
as hulle eenvoudig in die beloofde land ingestap het sonder slag of stoot.
Dit gebeur so dikwels met ons.
Wanneer God dit net goed laat gaan met ons,
hou ons maklik op om nederig te wees.
Ons raak selfs arrogant!
Ons dink dit word alles deur onsself vermag.
Maar kyk wat doen God:
Hy stuur nie die volk in die woestyn in en los hulle nie.
Vers 2 sê Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn gelei!
Hy laat hulle swaarkry en honger ly,
en dan voed Hy hulle met manna.
Vers 3 sê verder Hy het dit gedoen om die volk te leer,
dat jy nie van brood alleen lewe nie,
maar dat jy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.
Nederigheid, en afhanklikheid, en dissipline.
Ons leer dit wanneer ons swaarkry.
En God laat ons nooit alleen in die woestyn van swaarkry nie.
Ons ontdek iets van God se sorg en voorsiening,
wat ons andersins nie sou beleef het nie,
en Hom nie daarvoor sou dank en eer het nie!
Laat toe dat God ook in jou swaarkry,
sy Goddelike doel met jou bereik!
Groei saam met Hom daarin!
Ernest