Genesis 1:26 : “Toe het God gesê:
Kom Ons maak die mens as Ons verteenwoordiger…”
Jy kan dink dit is nou iets wat God lank-lank gelede gesê het,
oor Adam en Eva.
Maar God sê dit vir mý persoonlik.
God se Woord is vir vandag en elke dag vir my!
Ek moet oor myself glo dat ék God se verteenwoordiger is.
Geskep na sy beeld..!
God het my gemaak om Hom in hierdie wêreld te verteenwoordig,
juis daar waar ek spesifiek lewe.
Ek het daar ‘n spesifieke plek in God se plan.

Nou kan jy God op sy woord daarvoor neem,
dat Hy saam met jou daar is waar jy Hom verteenwoordig.
As Hy vir jou sê dat jy dadelik alles moet los,
en saam met Hom moet gaan,
kan jy Hom op sy woord neem dat Hy daar sal wees vir jou.
Hy het dit met Abraham al gewys.
God sê vir hom in Genesis 12:1: “Trek uit jou land uit,
weg van jou mense en jou familie af,
na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.”
Al wat Abraham het om op te gaan is God se woord.
Niks anders nie.
Hy neem God op sy woord en trek!
Jy kan, as verteenwoordiger van God, Hom verseker op Sy woord neem.

Meer nog!
Jy kan met Hom praat!
Geloof is ook om te weet dat God na jou as sy verteenwoordiger luister.
Wanneer God Sodom en Gomorra wil vernietig,
voel Abraham die Here moet weer ‘n slag daaroor dink.
Sê nou daar is net vyftig goeie mense in die stad…of selfs net tien.
Kan Hy so van God verskil, as sy verteenwoordiger?
Kan hy met God hieroor praat?
Hy kan, omdat God hom die kans gee!
Genesis 18:22 sê treffend:
“…die Here het by Abraham bly staan.”
God gaan staan ook by jou…
En Hy luister.
Hy het jou gekies as sy verteenwoordiger!

Ernest