Jy kan jaloesie baie goed wegsteek.
Dit kan in jou hart brand, sonder dat ander eers daarvan weet.
Jy kan selfs met mooi dinge besig wees,
maar jaloesie dryf jou!
Michelangelo en Raphael het kunswerke geskep om die Vatikaan te versier.
Uit jaloesie was daar egter ‘n bitter stryd tussen hulle.
Hulle wou nie eers met mekaar praat nie,
uit jaloesie en afguns op mekaar se kuns.
En tog was hulle veronderstel om met God se werk besig te wees!
Dikwels is jaloesie selfs verskuil agter godsdienstige ywer.
So het Miriam en Aäron vir Moses gekritiseer.
God wys egter dat jaloesie die rede vir hul optrede is.
Uit jaloesie wil Saul vir Dawid doodmaak, wat deur God gekies is vir koning.
In Filippense 1:15 skryf Paulus:
“Daar is wel party wat Christus verkondig omdat hulle jaloers op my is.”
Mense wat selfs die Evangelie misbruik ter wille van jaloesie!
Wanneer jy groen is van jaloesie, is jy ryp vir groot probleme!
Min of niemand sal weet, as jaloesie in jou hart vreet nie…
Hoe kan jy dit oorwin?
Eerstens, erken dit aan jouself.
Wees met jouself eerlik daaroor.
Erken jy is afgunstig oor iets wat iemand anders kry,
wat jy dink jy moet kry.
Tweedens, bely dit voor die Here.
Praat oor wat dit is, sonde!
Derdens, wees dankbaar.
Ook wanneer iemand anders geseën word.
Vierdens, weier om jouself met ander te vergelyk.
Vind jou vreugde en vrede in die Here!
Wees bly met die wat bly is.
So ontvang jy ook seen, in die seën van ander.
Ernest