Paulus is bly in die Here oor die gemeente van Filippi wat wys dat hulle nog aan hom dink.
Hulle het hom nooit vergeet nie, maar net nie die kans gehad om iets te doen nie.
Dan skryf hy in Filippense 4:11:
“Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie,
want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.”
‘n Ander vertaling sê:
“…want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees.”
Nog een sê: “…vergenoeg te wees.”

Dit is vreemd dat God skielik soek is as dit sleg gaan in ons lewens.
Maar ons wonder nie eintlik waar Hy is as dit goed gaan met ons nie.
Die meeste van ons vergeet dan van Hom.
Die van ons wat Hom wel in goed-gaan tye onthou,
ervaar Hom maar net as die groot Voorsiener van ons voorspoed,
oordaad en geluk.
Dit is so.
Goeie dinge is gawes van die Here wat aan ons voorsien.
Maar wat spesifiseer ons as goeie dinge?
Is dit meetbare dinge soos my beroep, mooi motor en huis, gesondheid….?
Beteken dit in dieselfde asem dat gelowiges wat dit nie het nie, ongeseënd is?
Natuurlik nie!
As dit so is, is jy ‘n voorstander van ‘n welvaartsteologie.
Dan is God jou altyd voorspoed verskuldig!
En gebrek daaraan is een of ander vorm van straf.

God is ewe veel by my in alle omstandighede, en seën my in alle omstandighede!

Die feit is:
Ons moet versigtig wees om God se seën altyd te koppel aan ons eie omstandighede.
Hoe ons dit beleef, positief of negatief.
Natuurlik moet ons binne ons eie omstandighede die Here se hand ervaar!
Die gevaar is om God se wil en sy seen,
direk en reglynig met ons belewenis van ons omstandighede te verbind.
Dit is wat ons hier leer by Paulus in Filippense 4.
God se wil troon uit bokant ons persoonlike omstandighede,
én ons belewenis daarvan.
Hy word nie in ons persoonlike omstandighede vasgevang nie.
My swaarkry of gebrek is nie afwesigheid van sy seën nie.
En my oorvloed en voorspoed, is nie bewys daarvan dat Hy my nou meér seën nie.
Ons is as God se kinders altyd ewe veel in sy seën!

Die punt is:
Ons moet ligloop om direkte uitsprake te maak,
oor ons persoonlike omstandighede en God se wil.
Ons is binne God se wil as ons saam met Paulus in Filippense 1:21 kan uitroep:
“…want om te lewe is vir my Christus…”
Dat Christus my lewe is!....dit is God se wil vir my!
Sy wil vir ons lewe is om hierdie hartsbelydenis te sê, te glo, en uit te leef!
Regtig in alle omstandighede!
Sy wil is dat ons lewens oorloop van vreugde en blydskap,
omdat ons op Christus se pad leef!

Ernest