Paulus omskryf sy tevredenheid en vergenoeg wees verder:
“Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is;
Van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet,
sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê,
sowel as om gebrek te ly.” Filippense 4:12.

Paulus sê hier ‘n belangrike ding wat ons dikwels miskyk en misleef.
Wanneer hy sê dat hy tot alles in staat is deur Christus wat hom krag gee,
verduidelik hy dit aan die hand van armoede en gebrek!
Hiermee kan ons maklik identifiseer.
Ons meet ook ons omstandighede aan wat ons hét, of nié het nie.
Ons weet die Here se krag dra ons deur die tye van nié hê nie….

Maar Paulus praat oók hier van oorvloed!
Hy verduidelik die waarheid, “om tot alles in staat te wees deur God se krag”,
ook aan die hand van oorvloed!
Hy sê ons het oók die krag van die Here nodig om in ons oorvloed te leef!
Ons gee dit nie maklik toe nie, maar,
ons het die meeste van die tyd té veél om van te leef!
En ten spyte daarvan voel ons altyd ons kom iets kort!
Daarom deel ons so min uit!
Sien dit raak in hierdie teks:
Paulus sê ons het juis ook die krag van die Here nodig,
om met ons oorvloed saam te leef!
Swaarkry kan ook in oorvloed lê.
Jy begin onafhanklik van God lewe,
en raak arrogant sonder om dit te besef.
Jy steun op jou sukses, en voorspoed, en oorvloed, in plaas van op God.
Ons het juis die Here se krag in voorspoed en oorvloed nodig,
om ons oog op Hom te hou.
Om binne sy wil te bly.

Ons moenie ons omstandighede oorhaastig gebruik as bewys van God se seën nie.
As di t goed gaan, seën God ons, en as dit minder goed gaan, is iets verkeerd in ons lewe nie.
Ons het God se krag ewe veel nodig in ál ons omstandighede.
In gebrek, én in oorvloed!
Lees dit raak in hierdie teks van Paulus.
Gaan leef dit afhanklik van God.
Altyd en in alle omstandighede!

Ernest