Filippense 4:13 bly een van die gewildste verse wanneer ons swaarkry beleef.
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Ons moet egter die teks reg verstaan.
Om te maak asof swaarkry maklik is, terwyl dit juis moeilik is, help niks.
Die Here wil mos juis hê ons moet eerlik wees.
Om te dink jy moet altyd ‘n getuienis hê,
van hoe die Here een of ander swaarkry maklik uit jou pad gevat het,
is nie korrek en eerlik nie.
Om heroïes te wees oor lyding en swaarkry, is ook gevaarlik.
Dit is selfs onverantwoordelik.
Dit ontken die realiteit van pyn, en die effek daarvan op jou gees en menswees.
Geloof in die Here en sy krag vir jou, is nie een of ander “wegvlug van die realiteit”-oefening nie.
Dit vra juis dat jy die lewe in die oog kyk, met alles wat dit vir jou inhou.
Vreugde en pyn. Voorspoed en teenspoed.

Dit is wat Paulus in Filippense 4 bedoel.
Om tot alles in staat te wees deur Christus wat hom krag gee,
beteken nie om ligvoets bo-oor sy probleme te leef,
en dat hy nie bekommerd is en seerkry nie.
In sy ander briewe deel Paulus dikwels sy diepste emosies, pyne, en frustrasies.

Filippense 4:13 se bedoeling is dat die Here se krag ons in staat stel,
om alles te vat wat die lewe na ons kant toe aangee.
Paulus se woorde van tevrede wees, en vergenoeg wees,
beteken dat hy vrede in die Here het met sy omstandighede,
en ten spyte van sy omstandighede.
Nooit systap Goddelike krag menslike pyn nie.
Lees weer Jesaja 43:2-3:
“As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan, dit sal jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
want Ek is die Here jou God…”
Woorde om God se teenwoordigheid in jou moeilikheid te beklemtoon!
God se krag gaan juis saam met ons deur dit alles.
Die Here se krag is juis daardie krag wat ons in staat stel om lyding te dra.
Sy krag is nie die wegneem van moeilike omstandighede nie.
Ons sien dit juis ook in Jesus se gebed in Getsemané, en sy lyding aan die kruis.
Deurbrake in God se krag is nie ontsnappingsroetes uit die moeilikheid uit nie.
Dit is juis God se krag wat jou staande hou midde-in die moeilike tye.
In alle tye.
Alle omstandighede.
So bereik God sy doel met jou.

Ernest