Baie mense word stoepsitters van die lewe.
Hulle het veel te sê oor die lewe en ander mense se lewe,
maar hulle mis self die lewe.
Stoepsitters van die lewe…. Hulle mis die blydskap en vreugde wat God saam met lewe gee.
Prediker 5:18-19 sê:
“God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen.
Dit is ‘n gawe van God.
So ‘n mens is vol blydskap oor wat God gee.”
‘n Hollandse groep met die naam Opus het die opgewekte liedjie
“Life is life” in die 80’s gesing. Een van die gunstelingevan die 80’s.!
Jacques Kallis het dit ook telkens laat speel as hy gaan kolf het in kitskrieket.
Stoepsitters en voornemende stoepsitters van die lewe moet daarna luister.
Dit behoort hulle van die stoep van die lewe af te kry,
want hierdie liedjie vier die lewe!
Hoe ons met vreugde kan lewe en die beste gee in alles.
En selfs as ons rus, om voluit te rus, sodat ons ook voluit kan lewe.
“You all get the best.
When everyone gives everything and every song everybody sings.
Then it’s live! Live is live!
Come on, stand up and dance!”
Hierdie woorde sing Opus om ons te inspireer om voluit te leef.
Prediker het al lank voor Opus hierdie taal gepraat.
Kom ons verbind onsself om so te lewe.
Kom ons steek mekaar aan met ‘n borrelende lewenslus en leéf dit.
Elke dag van stoepsit mis jy die lewe en kan jy nooit weer inhaal nie.
God het ons die lewe gegee, en dit in oorvloed.
Lééf dit!
Mark Twain het gesê:
“Twintig jaar van nou af,
gaan jy meer teleurgesteld wees oor die dinge wat jy nié gedoen het nie,
as oor die dinge wat jy gedoen het.”
Prediker sê die lewe is ‘n gawe van God.
Lééf dit!
Ernest