Ons lewe eintlik baie selfgesentreerd.
Ons belewenis van die werklikheid draai baie om onsself.
Al is ons nie noodwendig selfsugtig nie,
is ons leefwêreld op onsself gerig.
Ons verhoudings, ons energie, ons planne….
Dit alles het grootliks met onsself te doen.
Maar dikwels werk ons planne nie uit nie.
Paulus skryf in Romeine 15:22-24:
“As gevolg van al my sendingwerk,
kon ek tot nou toe nog nie daar by julle uitkom nie.
My werk in hierdie streke is egter nou afgehandel.
Ek gaan binnekort Spanje toe.
Op pad soontoe kom ek dan ‘n rukkie by julle oorbly.
Daarna kan julle my op pad na Spanje toe weghelp.”
Paulus wou op pad Spanje toe in Rome aandoen.
So vêr ons uit die Skrif weet, het dit nooit gebeur nie.
Hy is in die tronk gegooi die oomblik toe hy in Jerusalem aangekom het.
En dit ten spyte daarvan dat hy ook teenstand daar verwag het en in vers 30 vra:
“Julle moet baie ernstig vir God vra om my te beskerm,
teen al die ongelowiges daar in Judea.”
Paulus was wel die laaste twee jaar van sy lewe in Rome,
maar as ‘n gevangene in die tronk, ter wille van die evangelie!
Daar het hy met sy lewe betaal vir sy geloof!
Sy lewe het nie uitgewerk soos hy dit in bogenoemde teks beplan het nie.
Ongeag of jou lewe volgens jou planne verloop of nie,
jy kan seker wees dat God steeds deurgaans by jou is.
Paulus sê juis in vers 33:
“Ons wonderlike God wat vrede gee, is by julle almal…”
Deur sy teenwoordigheid en vrede,
kan jy alles wat die lewe na jou toe aangee in die oë kyk.
Vreesloos.
Uiteindelik draai die lewe nie om my nie.
God het sy plan en doel met my lewe, ter wille van Hom!
Ernest