In 2 Korintiërs 10:13 sê Paulus:
“Ek praat net oor die werk wat God my gegee het om te doen, oor niks anders nie.
Hy het my aangestel om die goeie nuus met ander mense te deel, ook met julle.”
In vers 17 gaan hy verder:
“Die Bybel sê: “As jy wil spog,
spog dan oor wat die Here doen.”
Al jou eie groot dade waarmee jy so graag spog,
tel in elk geval nie voor God nie.
Nee, al wat saakmaak, is dat God met jou lewe tevrede is.
Sy goedkeuring is al waarvoor jy moet leef.”

Die Here se goedkeuring stel nie onmenslike of onrealistiese eise aan ons nie.
Aan die einde van die aangrypende fliek, Schindler’s List,
ontvang Oskar Schindler ‘n ring.
Dit is gemaak uit die goue tandestopsels van die Jode!
Dit is ‘n geskenk as teken van hul dankbaarheid,
dat hy hul lewe gered het.
Dit breek sy hart dat hy nie nog méér mense kon red nie.
Hy fokus op die duisende Jode wat gesterf het in die oorlog,
en op sy frustrasie dat hy nie méér kon doen nie.
Maar, op die ring wat Oskar ontvang het staan die volgende inskripsie:
“Wie ook al één lewe red, red die wêreld in sy geheel.”
Jy sal altyd dink dat jy nóg meer vir die Here kon doen.
Die belangrike is:
Doen wat jy kán met wat jy hét.
Maak die verskil waar jý is.
Fokus op dit wat God besig is om daar te doen.
Skakel daarby in.
Dit is wat die Here van jou verwag.
Dit dra sy goedkeuring weg.

Ernest