Jeremia moes geestelike groei op ‘n pynlike manier beleef.
Hy moes vir meer as 40 jaar, stroomop teen die volk, die Here se werk doen.
Groot spot en vervolging was deel van sy lewe, en dit deur sy eie mense.
Hy is mishandel en verwerp.
Mense het hom misverstaan en as ‘n volksverraaier beskou.
Hy moes leer om hiermee saam te leef.
Maar Jeremia het tussen dit alles deur geleer om slegs op die Here te vertrou.
Hy het letterlik al sy hoop op die Here geplaas.
Daarom sê hy in Klaagliedere 3:24:
“Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.”

Dit is ‘n wonderlik eenvoudige belydenis:
Die Here is my lewe!
Net dit!

Die sportmanne het ‘n spreuk wat sê:
“No pain, no gain.”
Sonder sweet en swaarkry op die oefenveld,
is prestasie nie moontlik op die sportveld nie.
Daar is nie kortpaaie nie.
Harde oefening en swaarkry bring prestasie en sukses.

Hierdie beginsel geld ook ons geloofslewe.
Geloof wat gelééf word, vra vasbyt en deurdruk.
Dit vra volharding daarin om jou oog op die Here te hou.
Ons wil te maklik net ligvoets glo.
Dit is juis die vuuroond van toetse en beproewings,
wat ons geloof louter soos goud, sê 1 Petrus 1.
Wanneer ons dit verstaan,
dan het ons nie heeltyd probleme met God se wil nie.
Dan groei ons in ons geloof.
In goeie en in swaarkry tye.

Ernest