Vir God is die huwelik ‘n heilige instellig deur Homself.
Ons moet heilig en eerbaar met ons huweliksmaat saamleef.
So bou ons ook aan ‘n heilige gesinslewe.
Heilig beteken in hierdie terme; aan God gewy.
Paulus beklemtoon dikwels dat dit God se wil is.
Ons moet eerbaar saamleef met die huweliksmaat wat ons gekies het.

God gee nie ‘n bloudruk met wie ons presies moet trou nie.
Anders kan ek mos later ‘n saak uitmaak
dat ek per ongeluk met die verkeerde persoon getrou het,
en dat my huwelik nou ongeldig is in God se oë!
Dit is hoe baie Fariseërs oor die huwelik gedink het.
Daarom het hulle ook nie juis ‘n probleem met egskeiding gehad nie.

God het nie iewers in die ewigheid bloudrukmatig ‘n maat vir my vasgemaak nie.
Maar wanneer ek trou met die persoon wat ek kies, en waarin ek ook God se wil soek,
dan moet ek tot eer van God met daardie persoon saamleef.

Die huwelik is deur God ingestel en daarom eer ek Hom daarmee.
Daarom moet ek God se wil vir die huwelik ken en dit uitleef.
Ek moet tekste soos Markus 10, Matteus 19, 1 Korintiërs 7, Romeine 7,
Efesiërs 5, en 1 Petrus 3 gaan lees en leef!

Vir God is dit belangriker dat ons mekaar binne ons huwelik liefhet en dien,
as dat ons maar net die sogenaamde regte persoon vind.
Natuurlik mag ons ook bid dat God vir ons ‘n persoon stuur wat sy wil eer.

Soek waarlik God se wil, en leef dit uit in jou huwelik en gesin.
Sy wil is primêr dat ons Hom sal eer met ‘n heilige huwelik en gesinslewe.
Doen dit!

Ernest