Hoe jy na die lewe kyk bepaal hoe jy lewe.
Dit bepaal hoe jy jou tyd en geld bestee,
jou gawes gebruik en jou verhoudings bestuur.
As jy dink die lewe gaan oor pret, sal pret die hoogste doel in jou lewe wees.
As die lewe vir jou gaan oor kompitisie, sal jy altyd met iemand kompeteer.
As die lewe vir jou gaan oor die dinge wat jy kan besit,
sal alles en almal vir jou waarde in rand en sent hê.
Anaïs Nin het gesê:
“Ons sien dinge nie soos dit is nie.
Ons sien dinge soos ons is”.
Die Bybel vertel baie verhale van hoe mense se karakter gevorm word,
deur dit wat met hulle in die lewe gebeur.
Uitdagings, beproewings en versoekings is deel van die lewe.
Deur dit wat met hierdie mense gebeur het,
is hulle geloof, gehoorsaamheid, integriteit, liefde en lojaliteit getoets.
Soms het mense die toets geslaag, en soms gedruip.
In alles wat met ons gebeur is God met ons op pad.
Daarom kan die lewe in hierdie opsig as ‘n oefenskool of gimnasium gesien word.
God wil deur die lewe deurlopend aan ons bou,
om meer en meer die karakter van Jesus aan te neem,
tot die Vader se eer.
Daarom is die lewe die geleentheid om as God se verteenwoordiger in hierdie wêreld te leef.
Ons besit eintlik niks op aarde nie.
God is die Eienaar van alles.
Hy leen dit aan ons om dit namens Hom te bestuur.
Jy is sy verteenwoordiger wat sy wil, koninkryk en Naam beskerm en uitbou, in sy krag.
Daarom vertel Jesus die gelykenis van die muntstukkein Matteus 25.
Sommige ontvang meer en ander minder.
Die belangrike is nie hoeveel jy ontvang nie.
Die belangrike is dat God jou vertrou met dit wat Hy vir jou gee.
Daarom is dit beter om te hoor:
“Oor min was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel”,
as om baie te hê, en God nie daarmee in hierdie wêreld te verteenwoordig nie.
“Kom in en deel in My vreugde” – Matteus 25:14.
Dit is waaroor die lewe gaan!
Ernest