Baie mense leef asof hulle vir altyd op hierdie aarde gaan wees.
Hulle dink nie eers oor die nuwe hemel en nuwe aarde
waarvan die Bybel praat nie!

2 Korintiërs 5:1 sê:
“Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is,
afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het.”
Ons slaan ons tentpenne heeltemal te diep in!
Ons dink ons het kaart en transport op aarde.
Filippense 3:20 sê ons burgerskap is ‘n hemelse burgerskap!
Selfs ons wonderlikste tye op aarde,
is nie ‘n vergelyking met ons ewige bestemming nie.

Jakobus gaan nog verder.
Hy sê in Jakobus 4:4 dat as jy ‘n vriend van hierdie wêreld is,
jy ‘n vyand van God is.
Is die lewe op aarde dan só onbelangrik?
Nee.
Jy moet alles in jou vermoeë doen om ‘n verskil in die wêreld te maak.
Jy is juis God se verteenwoordiger in die wêreld!
Maar die aarde is ook ons lewensgeleentheid,
om seker te maak van die ewige bestemming, deur die genade van God.
Die Bybel sien die lewe op aarde as ‘n tydelike verblyf in ‘n vreemde land.

Christene word vreemdelinge, pelgrims, reisigers, en besoekers genoem.
Christene is in die wêreld maar nie soos die wêreld nie.
Daarom is ons lig, sout en suurdeeg vir die wêreld.
Moenie jou tentpenne diep inslaan nie.
Jy is op reis saam met God!!

Ernest