Dikwels word die arm mense maar net objekte waaroor ons besluit.
Ons skud ons koppe in medelye en stuur hulle kerk toe vir hulp.
Daar kan hulle iets te ete kry en ook ‘n paar stukkies ou klere.
Ons gaan soms selfs verder en gee aan hulle ou of stukkende meubels.
Of nóg verder!
Ons gee bepaalde voorskrifte aan die kerk,
wie die klere mag ontvang, en wie nie.
“Beggars can’t be choosers”, of kan hulle?

Leonard Sweet skryf:
“It is one thing to have a heart for the poor.
It is another to use their bathrooms.”
So lank jy nog keuses het uit klere, en kos,
is jy een van die rykste mense in die wêreld!
Om nie eers te praat van jou huis, of huise,
motors, en speelgoed nie.
Deel jy regtig die genade van God vir jou, uit aan ander?
Jesus het gesê:
“Geseënd is julle wat arm is,
want aan julle behoort die koninkryk van God.” - Lukas 6:20.

Kom nou. Kom ons gee ook aan armes ‘n keuse. Probeer.
Bederf hulle met ‘n maaltyd met keuses.
Gee ‘n slag nuwe klere.
Of klere om uit te kies.
Enige iets wat bederf.
Armoede stroop mense van hul menswaardigheid.
Hulle ellende sonder uitsig stroop hulle later van alle blydskap.
Hoe meer keuses iemand het,
hoe meer menswaardig voel hy.

Kom ons draai die wêreld om met die uitdeel van God se genade.
Ons wat genade op genade ontvang het!

Ernest