Baie mense leef meer aan die ander kant as aan hierdie kant.
Hulle is meer bekommerd oor die hiernamaals en wat dan gaan gebeur,
as wat hulle daarop fokus om nou, aan hierdie kant, vir die Here te lewe.

Natuurlik is ons toekoms belangrik.
Die Here wil juis dat ons met ‘n lewende toekomsverwagting leef.
Hy loop voor ons uit met ons toekoms.
Iemand het gesê:
“Ek het die laaste bladsy van die Bybel gesien,
en weet verseker alles gaan goed afloop!”
Die feit is; ons word geroep om vandag vir Hom te leef.
Nou.

Ons word ook geroep om Hom volledig met môre te vertrou.
Hy is in die toekoms en sal daar wees as môre aanbreek.
Om heeltyd in die toekoms te probeer leef, in plaas van hier en nou,
is om die lewe te mis waarmee die Here jou nou seën.
Dit is om die geleenthede vir die Here te mis, waarmee Hy jou nou vertrou.

Ons moet onsself afvra hoe die Here, deur ons,
die hemel wil laat grondvat waar ons nou leef.
Daarom leer Hy ons bid in Matteus 6:10:
“…laat U wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel.”
Dit moet daagliks deur ons gebeur.
Ons wat God se verteenwoordigers op aarde is.

Christene se toekoms is niks meer seker as die van ongelowiges nie.
Die enigste verskil is dat Christene se toekoms ‘n pad saam met God is,
wat nou geleef word!
Dietrich Bonhoeffer het gesê:
“Dit mag wees dat Jesus môre weer kom.
Dan sal ons met die grootste vreugde ophou werk vir ‘n beter toekoms.
Maar nie ‘n dag vroeër nie.”

Lééf nou!
Leef aan hierdie kant!
Leef nou vir die Here!

Ernest