Ons sê so maklik “dit sal nie werk nie”.
Ons moet nuut en vars dink oor moontlikhede, en mislukkings.
Psalm 37:23 sê:
“Die Here bepaal die koers van die mens……, en Hy ondersteun hom.”

Uit die einste Dawid se lewe kry ons wysheid,
hoe om te dink oor mislukking of sukses.
Moontlikhede om mislukking te oorkom.
Nuwe manier van dink.

Kyk na Dawid en Goliat se verhaal.
Wat oorheers die mense se gedagtes in hul uitdaging?
Saul en die volk se gedagtes word deur Goliat oorheers.
Hulle dink groot oor Goliat en klein oor God.
Hulle dink mislukking.
Hulle staan nie ‘n kat se kans nie!

Dawid se gedagtes word weer deur God oorheers.
Hy dink oorwinning en hoop.
Waar God is, is daar hoop.
Waar lewe is, is hoop.
Hy dink groot oor God, en klein oor Goliat.
Hy is in voeling met God, midde in die werklikheid.

Dit is hoe ons moet dink!
Daarom glo ons aan wonderwerke.
Want wonderwerke is niks anders as God se werk nie.
Gelowiges is realisties, want “God is real!”

‘n Uitstekende voorbeeld van iemand wat nuut én realisties gedink het, is Dick Fosbury.
In die 1960’s het hy die hoogspringwêreld ingrypend verander.
Die Fosbury Flop kom op die toneel.
Almal sê:
“Dit sal nie werk nie!”
Sy reaksie is:
“Ons sal sien!”
Die uiteinde is dat hy in 1968 die goue medalje wen in die Olimpiese Spele.
Met ‘n nuwe wêreldrekord!
Vandag Fosbury Flop al die hoogspringers,……en dit is nié ‘n flop nie!

Dink groot oor God en klein oor mislukking.
Dink nuut en laat God jou gedagtes oorheers!
Dit breek die “onmoontlike” moontlikhede oop!

Ernest