Die gelykenis van die verlore seun staan bekend as
“the greatest short story of all time.”
Eintlik moet hierdie gelykenis se naam wees:
“Die Pa met die hart van liefde en oop arms!”
Hierdie verhaal gaan eintlik oor die Pa!
Dit is presies hoe God is,
en dit is oor God wat Jesus die verhaal vertel.
Lukas 15 vertel dat die seun wat weggeloop het, so honger geword het,
dat selfs die varke se peule vir hom smaaklik gelyk het.
Toe hy uiteindelik tot sy sinne gekom het,
het hy besluit om huistoe te gaan, na sy pa toe,
en te erken dat hy teen God en sy pa gesondig het.
Dat hy nie langer werd is om sy pa se seun genoem te word nie.
En toe hy op pad terug nog vêr weg was, het sy pa hom sien aankom.
Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop,
hom omhels en gesoen!
Elke mens was, of is daar, waar net jou Hemelse Vader kan help!
Jesus sê “toe hy uiteindelik tot sy sinne kom”,
of soos ‘n Engelse vertaling sê:
“when he came to himself”.
Solank jy weg is van God, is jy nie waarlik jouself nie.
Ons is net onsself as ons by God is.
Soos die verlore seun moet ons terugkeer na die Vader, as ons nie by Hom is nie.
Om net daar in sy genesende teenwoordigheid te leef.
En onthou: God behandel ons asof ons nooit weg was nie!
Dit is wat God se genade is.
Onverstaanbaar, maar lewensveranderend!
By Hom kry jy die beste klere, ‘n ring, skoene, en ‘n fees!
Die klere/mantel beteken eer, jou naam wat Hy herstel
Die ring beteken jy kry jou gesag terug, jy is sy kind, nie ‘n slaaf nie!
Die skoene beteken vryheid, want slawe het kaalvoet geloop.
Die fees beteken oorloop-vreugde en dankbaarheid, dat jy terug is by die Vader!
Jy is altyd welkom by God, al verdien jy dit nie.
Niemand verdien dit nie!
Hy wag vir jou,
met sy hart wat oorloop van liefde vir jou,
en sy oop arms om jou vas te hou!
Kom terug!
Ernest