Die Vader vier fees oor die verlore seun wat huistoe gekom het.
Maar, hierdie storie het ook ‘n “maar”.
Verder lees ons in Lukas 15:
“Intussen het die ouer seun in die veld gewerk.
Toe hy terugkom huis toe, hoor hy musiek, en hy vra toe wat aangaan.
“Jou broer is terug! Ons vier fees omdat hy veilig teruggekom het.”
Die ouer broer het hom liederlik vererg.
Sy pa het toe uitgekom en hom gesoebat.”
Die oudste broer is dikmond oor die fees vir sy broer.
Hy wil nie eers in die huis inkom nie.
Hy kom groet nie eers die broer wat teruggekom het nie.
Hy voel hy het by die huis gebly,
en al die jare soos ‘n slaaf gewerk vir sy pa.
Hy verdien eerder die fees!
Juis dit is ons probleem.
Ons wil genade verdien.
Ons sal selfs soos ‘n slaaf daarvoor werk.
En so mis ons juis die genade!
Die pa sê in vers 31 vir die ouer broer dat alles nog heeltyd ook syne was!
Hy hoef nie soos ‘n slaaf daarvoor te gewerk het nie!
Ons het almal ‘n stukkie ouer broer in ons.
Ons dink God moet meer genadig aan ons wees,
omdat ons dit tog ‘n bietjie meer “verdien”.
Omdat ons nie ons lewe gaan uitmors het nie.
Ons verdien tog daardie ietsie meer…..
Susan Yates sê hierdie baie belangrike waarheid:
“Always allow God the privilege of working in another’s life
differently from the way God has in your own.”
Genade word nie teruggehou nie, maar uitgedeel!
En God sal dit uitdeel! Onbeperk!
Vier jy fees, of is jy dikmond?
Ernest