Die hoofdoel van my hele lewe is om God te aanbid!
Daarom moet ek dadelik myself afvra:
Is my gewone dagtake en dade ook aanbidding van God?
My hele lewe moet aanbidding wees!
Kol. 3:23 sê:
“Wat julle ookal doen, doen dit van harte soos vir die Here,
en nie vir mense nie…”

God het nie nodig gehad om mense te skep nie.
Hy wou egter die mens skep na sy beeld.
Hy wou sy liefde met die mens deel,
wat die vermoeë sou hê om sy liefde te beantwoord, met opregte liefde.
Dit is ‘n lewe van aanbidding van God.
Aanbidding is die lewenswyse van ‘n kind van God.
Dit word so natuurlik soos om te eet of asem te haal.
Want die Here is jou lewe, sê Klaagliedere 3:24.
Paulus sê in Filippense 1:21 “om te lewe is vir my Christus..”
Jou hele lewe word aanbidding.
Jy kan nie anders nie.
Dit oorweldig alles wie jy is, en wat jy doen!

As dit nie vir God is Wie jy aanbid nie,
sal jy iets anders aanbid.
Dit wat vir jou belangriker is as God.
Al is dit jyself!

Aanbidding is meer as musiek en sang.
En dan wil party van ons nog ons smaak
van musiek en sang normatief maak.
Jou aanbiddingstyl en voorkeure,
ten koste van ander se styl en voorkeure, verraai meer van jouself,
jou agtergrond en jou persoonlikheid, as wat dit oor God sê!
Vir God gaan dit oor jou hart en gesindheid, eerder as jou styl.
Ons verskil tog in styl radikaal van baie kulture wat God opreg dien!

Aanbidding gaan oor God en nie myself nie.
Die motief vir aanbidding is om God te verheerlik,
en nie om jouself te bevredig nie!
Jy gaan na die erediens om jouself te offer,
nie om te “kry” nie.
Jesaja 29:13 kla juis die volk aan dat hul aanbidding om hulleself draai.
Hulle eer God met hulle mond maar hulle hart is vêr van Hom af.

Ware aanbidding is nie deel van my lewe nie.
Dit ís die lewe!
Want die Here is my lewe!

Ernest