1 Korintiërs 1:21-23 is treffend vir ons tyd, tyd van kritiek op God se Woord,
op die Christendom, op die kerk, en ons geloof:
“Mense met al hulle slimmighede het nie die vaagste benul
waaroor dit gaan wanneer dit by die dinge van God kom nie.
God het in sy wysheid besluit dat dit so sal wees.
Mense dink dalk dat die kruis en wat daar gebeur het nie sin maak nie.
Dit is egter die manier waarop God besluit het,
om mense uit hulle sonde na Hom toe te bring.
Ek praat van mense wat God vertrou.
Die Jode sou wonderlike bomenslike tekens verkies het,
en die Grieke sou liewer wou gehad het dat alles mooi uitgeredeneer kon word.
Maar ons vertel vir almal dat Jesus wat gekruisig is,
die manier is waarop God dinge tussen Hom en sondaars regmaak.
Die Jode weier botweg om dit te aanvaar en ander mense lag daarvoor,
asof dit sommer ‘n storie of ‘n feëverhaal is.”
Presies net so is dit vandag nog!
Die kruis was destyds vir die Jode afstootlik en vir die Grieke onsin.
Die Jode kon nie glo dat die verwagte Messias aan ‘n kruis sou sterf nie,
want ‘n kruis was ‘n vloekhout – Deut. 21:23.
Die Grieke het weer geglo dit was onsin.
Volgens hulle kon die gode nie voel nie,
en ‘n God wat gely het, kan volgens hulle nie ‘n God wees nie!
Die Griekse filosofie het alles beredeneer,
en dit moes vanuit hulle oogpunt sin maak….
Dit is vandag nog so.
Mense sê “bewys vir my dat God bestaan.”
Hulle wil met hulle slimmighede God “sien” of uitredeneer.
Ander mense weier botweg, soos die Jode, om dit te aanvaar.
Dikwels hoor ons dit is sommer stories of ‘n feëverhaal.
Dit is asof Paulus presies vir ons tyd skryf.
En dit is wat dit is!
Die Bybel is presies ook vir ons tyd, want dit is vir altyd!
Die kruis het die bron van lewe geword vir elkeen wat glo.
Die houtkruis word as’t ware die handtekening van God se genade.
Die gekruisigde Christus is die krag van God en die wysheid van God.
Maak nie saak wat die wêreld daarvan dink nie.
Geloof bring jou daar.
Die geloof wat God vir jou kom gee.
Menslike slimmigheid…….of Goddelike wysheid.
Wat kies jy?
Ernest