Oorgawe is die hart van ons verhouding met die Here.
Daarom sê Romeine 12:1 “Gee julleself aan God…..”
Baie mense hou nie van die woord oorgawe nie.
Dit klink soos om ‘n verloorder te wees, en oor te gee.
Oorgawe is egter die natuurlike reaksie op God se liefde en genade.
Jy besef jy staan nie meer in die middelpunt van jou lewe nie.
Die oorwinning oor die heelal behoort aan die Here.
Jy deel juis in hierdie oorwinning sáám met Hom!

Vir oorgawe aan die Here moet jy Hom totaal met jou lewe vertrou.
Hoe meer jy God se liefde vir jou ontdek, hoe meer vertrou jy Hom,
en hoe meer gee jy jou totale lewe aan Hom oor.
God wen jou vertroue met onvoorwaardelike liefde,
nie met dwang nie.

Oorgawe beteken verder om totale beheer aan die Here oor te gee.
So asof ons die beheer het, en nie Hy nie….
Punt is: Ons wil in beheer wees van ons lewens.
Ons probeer heeltyd met God se werk inmeng, in plaas van saamwerk.
Word deel van God se skeppingsdoel met jou.
Hy het ‘n unieke plan met jou.

Oorgawe beteken nie dat jy God se plan gelate aanvaar en terugsit nie.
Oorgawe is alles behalwe passief wees. Inteendeel!
Rom. 12:1 sê verder jy gee jouself as offer wat vir God aanneemlik is.
Jou hele lewe is nou gerig op sy koninkryk.
Jy offer jouself op vir sy saak.
Jy maak ook oorlog met jou selfgesentreerdheid.
Oorgawe aan die Here maak jou sterker!
Oorgawe aan die Here is nie die beste manier om te lewe nie,
dit is die enigste manier om waarlik te lewe!

Ernest