Matteus 18:10:
“Julle moet nooit een van hierdie kindertjies minag nie,
want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur
by My hemelse Vader is.”
Die verkeerde afleiding word dikwels uit hierdie teks gemaak
dat elke kind ‘n eie beskermengel het.
Die wonderlike nuus is dat dit nog groter is as dit!
Die Bybel is duidelik dat álle gelowiges, ongeag ouderdom,
beskermend en bewarend deur een of meer engele vergesel word!
Nie net kinders nie, en ook nie noodwendig net een engel nie!
Engel beteken letterlik boodskapper wat in diens van God staan.
Engele is hemelse wesens wat as boodskappers of gevolmagtigdes
van die Here optree.
Engele moet onderskei word van gerubs (Gen. 3:24), serafs (Jes. 6:2),
en hemelwesens (Gen. 6:2, Ps. 82:1) wat in vertalings soms “engele” genoem word.
Daar is heelwat verwarring rondom engele.
Dit is belangrik om te weet dat mense nie engele word as hulle doodgaan nie!
Engele is nie-liggaamlike wesens,
en is nie soos mense na die beeld van God geskep nie.
John Paton was ‘n sendeling op Tanna in die Nieu-Hebriede in die laat 1800’s.
Vyandige stamme wou die Paton gesin doodmaak.
Hulle het net bly bid tydens die skrikwekkende nag, dat God hulle moet bewaar.
Met dagbreek het hulle gesien dat hulle aanvallers net weggeloop het!
‘n Jaar later het die hoof van die stam ‘n Christen geword.
John het hom uitgevra oor hoekom hulle nie daardie nag sy gesin uitgewis het nie.
Die stamhoof se verbaasde antwoord was:
“Wie was al die manne by julle daardie aand!?”
Daar was niemand by hulle nie.
Net Paton en sy gesin.
Maar die stamhoof het volgehou dat hulle nie kon aanval nie,
en dat hulle te bang was, want die honderde manne,
met helderskynende klere en swaarde, het om die sendingstasie gestaan!
Samuel Butler sê:
“As far as angels are concerned, all reason is against it,
and all healthy instinct is for it.”
Wat sê die Bybel?
Psalm 91:11 sê:
“Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ookal gaan.”
En Matteus 18:10, Jesus se woorde, is vandag nog net so waar!
Ernest