Lukas vertel ons van die verlore seun.
Hy was skrikkerig om weer sy pa te ontmoet a.g.v. sy sondebesef.
Hy beplan toe om sy skuld te bely.
Hy het beplan om terug te gaan na sy pa toe,
en hom as ‘n slaaf aan te bied.
Hy het nog skaars begin om skuld te bely,
toe het sy pa hom vergewe,
en hom weer as sy seun teruggeneem!
Belydenis maak vry!

‘n Seun het een van sy gesin se ganse per ongeluk met ‘n klip doodgegooi.
Hy het gedink sy ouers sou nie agterkom die gans is weg nie.
Hy het die gans stilletjies gaan begrawe en doodstil gebly.
Daardie aand het sy suster hom geroep en gesê sy het dit gesien.
Sy het gesê as hy nie die skottelgoed vir ‘n onbepaalde tyd in haar beurte gaan was nie,
gaan sy vir hulle ouers sê van die gans.
Na verskeie dae se skottelgoed was het hy na haar toe
gekom en gesê dit is nou weer haar beurt!
Toe sy hom daaraan herinner dat sy vir hul ouers van die gans gaan sê,
was sy antwoord dat hy rééds vir hulle gesê het!
Hul ouers het hom vergewe en hy is nou vry!
Dit is nou weer haar beurt om skottelgoed te was,
want sy kan hom nie meer aankla nie!
Belydenis maak vry!

Dawid het dieselfde ervaar na sy sonde met Batseba.
In Psalm 32:3 sê hy:
“Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer.”
Hy het beleef hoe hy geestelik, emosioneel en liggaamlik agteruitgaan.
Maar die oomblik toe hy belydenis van sy sonde teenoor God gedoen het,
het God hom vergewe!
Die duiwel kon hom nie meer aankla nie.
Sy geestelike en emosionele vreugde,
en sy fisiese gesondheid het teruggekeer!
Belydenis bring bevryding van skuld!
Ons kan eers ons sonde agter ons plaas,
en vry kom van die aanklagte van die bose,
nadat ons dit teenoor God erken en bely het.

Bely en kom vry.

Ernest