Dikwels wens ons dat ons alles kan onthou wat ons in die Bybel lees.
Ander kere is ons weer gefrustreerd omdat ons iets kan onthou,
maar nie meer weet waar dit in die Woord staan nie.
Dit moet ons nie moedeloos maak nie.

Die Woord is soos voedsel wat daagliks ge-eet moet word.
Jy kan nie daarsonder lewe nie.
Jesus het self in Matteus 4:4 gesê:
“’n Mens leef nie net van brood nie,
maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”
Soos ons nie kan onthou wat ons ‘n paar dae terug ge-eet het nie,
so kan ons ook nie altyd onthou wat ons uit die Woord van God gelees het nie.
Maar dit het lewensnoodsaaklike “voedsel” aan ons gegee om te leef!
Die Woord voed ons!

Die Woord reinig ons ook.
‘n Vrou wat in die sendingveld tot bekering gekom het,
het op ‘n gereelde basis die sendeling se Bybelklasse bygewoon.
Die sendeling het moedeloos geword omdat sy so min onthou uit die Woord.
Een dag het hy vir haar gesê:
“Jy herinner my aan ‘n sif.
Alles wat ek bo in jou brein ingooi, loop sommer weer onder uit.”
Die vrou het geantwoord:
“Dit is waar dat ek min onthou. Maar net soos met ‘n sif,
word al die onreinhede teruggehou.
So help dit wat jy my elke dag uit die Bybel leer om rein te leef.
Dit maak my skoon. Daarom kom ek weer en weer terug.”
Daarom dat Jesus in Johannes 15:3 sê:
“Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat ek vir julle gesê het.”
Die Bybel reinig ons ook.

Lees gereeld die Woord van God.
Sy Woord voed jou, en reinig jou.
Dit is lewensnoodsaaklik.

Ernest