Kinders van die Here gaan dikwels deur baie swaar beproewing.
Ons het dikwels nie woorde daarvoor nie.
Ons is net stom en in ons eie harte só seer saam met hulle.
Ons weet nie wat om te sê nie.
Dit voel ook vir ons of bemoediging nie eers sal help nie….
Tog is daar hoop!
Tog is daar vooruitsig!

Niemand is sonder hoop wie se hoop in God is nie.
Kinders van die Here kan beproewings van hierdie lewe
hanteer met hierdie wete.
Hulle het vooruitsig.
Oorwinning is moontlik deur die geloof,
al lyk dit vir ons hoé donker.
Hoe moeilik dit ookal is om by tye te glo,
God het ‘n liefdevolle doel met alles wat
Hy in die lewens van sy kinders toelaat.

In Job 19 lees ons Job se bittere klaaglied.
In vers 26 sê hy dan hierdie merkwaardige woorde:
“Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het,
sal ek nog lewe en God sien.”
Saam met die klaaglied kom ook sy geloofsverklaring,
en sy hoop wat daarmee saamgaan.
Hy kla oor sy eensaamheid,
sy vriende wat hom in die steek gelaat het,
al sy kinders wat dood is,
sy rykdom wat hy verloor het,
en die siekte wat hom wegvreet……

Nogtans vind hy troos!
Hy sal nog lewe en God sien!
Dit is ‘n geloofsverklaring.
Met hierdie hoop kon hy triomfeer.
Ons kan ook.

Niemand is sonder hoop wie se hoop in God is nie!

Ernest