Leierskap eis verantwoordelikheid.
“Julle moenie almal leermeesters wil wees nie,
want julle moet weet dat ons wat leermeesters is,
strenger as ander beoordeel sal word.” – Jakobus 3:1.

Mark Twain was dikwels in konflik met geestelike leiers.
Twain het kerkleiers geken wat slawe besit het,
en die slawe sleg behandel het.
Hulle het dan die Bybel verkeerd aangehaal om hul dade te regverdig.
Twain het gehoor hoe hulle vuil taal gebruik,
gesien hoe hulle oneerlike dade doen,
en dan met vroom gesigte in die kerk getuig.
Hy het vertel dat hy ware liefde van die Here in sy vrou en ma beleef het,
maar dat kerkleiers hom dikwels teleurgestel het.

Leierskap is ‘n voorreg.
Wanneer die Here jou roep en jou die taak gee om te lei,
moet jy dit nie afwys nie.
Maar die Here hou jou verantwoordelik vir jou leierskap.
Om ‘n kleingroep te lei, of jongmense te lei, of ‘n bepaalde bediening te lei,
of ‘n gemeente te lei, of in die openbare lewe te lei waar jy werk of speel,
vra om ‘n toegewyde navolger van Christus te wees.
Leiers moet ware wysheid openbaar.
Bid vir die leiers met wie jy te doen kry.

Die beste leiers is diegene wat in Christus se voetspore loop!
Daarom het die Here Jesus in Johannes 12:26 gesê:
“As iemand My wil dien, moet hy My volg;
en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees.”
Wanneer ‘n leier die Here volg,
en daar is waar die Here hom wil hê,
dan kan hy ook ander na die Here, en na die Here se wil lei.
En dan sê die Here hierdie woorde in die laaste deel van die vers:
“As iemand My dien, sal die Vader hom eer.”

Loop in die voetspore van die Here!
Die beste leiers is die mense wat in die voetspore van die Here loop.
Maak nie saak op watter lewensterrein dit is nie!

Ernest

Ernest