Almal wil graag vry wees.
Maar as ons vryheid verkeerd verstaan,
lei dit juis tot gebondenheid.

Henrietta Mears, ‘n Bybelkenner en onderwyser,
het dit baie mooi soos volg verduidelik:
‘n Voël is vry in die lug.
Maar sit die voël in die water,
dan het hy sy vryheid verloor.
‘n Vis is vry in die water,
maar sit ‘n vis op die grond,
dan het hy sy vryheid verloor.
Die lug is die voël se lewensruimte,
en die water is die vis se lewensruimte.
So is die mens se lewensruimte om binne die wil van God te leef.
Juis in die wil van God, is die mens eers waarlik vry.
Die wil van God is vir die mens soos water vir ‘n vis,
en lug vir ‘n voël.

Die lewensruimte waarvoor God ons geskep het,
en waar ons waarlik vry kan wees en leef,
is binne sy wil, vry in Christus!
Die Here Jesus is die uiteindelike bron van ware vryheid.
Hy het self in Johannes 8:31-32 gesê:
“As julle aan My woorde getrou bly,
is julle waarlik my dissipels;
en julle sal die waarheid ken,
en die waarheid sal julle vry maak.”

Om waarlik vry te wees is om in Christus te wees!

Ernest