Wetenskaplikes poog al jare lank om kontak te maak met lewe in die hemelruim.
In November 1974 is ‘n boodskap na die hemelruim gestuur.
Maar selfs al word die sein êrens in die hemelruim opgepik,
het hulle beraam dat dit ongeveer 48 000 jaar sal neem vir die antwoord
om na die aarde terug te keer!
Vir baie mense lyk hierdie navorsing na tydmors.
Nogtans is hierdie wetenskaplikes baie ernstig in hulle pogings.

Dit laat ‘n mens dink aan óns as Christene,
wat regtig met die “buiteruim” kontak het.
Ons weet wat die Bybel sê oor ons gebede en kontak met God,
en tog is ons soms so kleingelowig oor hierdie kontak met God!
Elke kind van God het die vermoeë om met die Skepper
van die heelal in aanraking te kom!
Hy wat al die sterrestelsels geskep het,
en steeds die skepping beheer.
Hy hoor ons die oomblik as ons bid.
Ons hoef nie te wonder of hierdie “sein” ooit opgetel gaan word nie.
En ons wéét Hy antwoord beslis,
ooreenkomstig sy wil.

Deur die wonderlike voorreg van gebed,
het elke Christen die geleentheid om direk met God in aanraking te kom!
Hy wat in die hemel na ons luister,
ons liefhet, en óók hier, op aarde, by en ín ons is!
Hy wil ons help, lei, en saam met Hom laat leef!

In die lig van ons persoonlike verhouding met Hom,
kan ons met hernude oorgawe en vertroue ons gebede hemelwaarts rig!
Ons wéét God is daar.
Ons wéét God luister.
Ons wéét God antwoord.

Ernest