Charles Simeon, die bekende 19e eeuse prediker in Brittanje,
het op sy sterfbed gesê dat hy sy grootste troos kry uit die feit
dat God die hemel en die aarde geskep het.
Toe die mense langs sy bed vra hoekom juis daarin,
het hy geantwoord:
“Wel, as God al die wondere van die skepping uit niks kon voortbring,
dink net wat doen Hy nou, en gaan Hy ook nog met ons doen!
Hy kan sekerlik ook iets van my maak!”

1 Johannes 3:2 sê:
“Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie.”

Selfs nou is God se transformerende krag in ons lewens aan die werk.
Toe ons tot bekering gekom het, het ons kinders van God geword,
en is ons “saam met Christus lewend gemaak.” – Efesiërs 2:5.
Maar nog méér as dit.
Efesiërs 2:7 sê dat God ook in die tye wat kom,
sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is,
deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

Geen wonder nie, dat Johannes kon uitroep:
“Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie!”

God is nog nie klaar met ons nie.
Hy transformeer elke dag deurlopend aan ons,
deur die werk van die Heilige Gees.
Die beste kom nog!
Nie net hiér nie, maar ook hierna.

Daarom kan ons bid:
“Here, terwyl U ‘n plek vir ons berei,
berei ons voor vir daardie plek.”

Ernest