Die seuntjie was die eerste keer Sondagskool toe.
Toe hy by die huis kom vra die ma:
“Waaroor het die dominee gepraat?
“Oor sonde”, sê die seuntjie.
“Wat sê hy?”, vra die ma.
“Lyk my hy is daarteen”, sê die seuntjie…
Is ons maar net teen die sonde, of haat ons die sonde?
Psalm 97:10 sê:
“Julle het die Here lief;
haat dan wat sleg is!”
God haat sonde.
Wanneer Christus ons sonde aan die kruis dra,
draai God sy rug op Hom en verlaat Hom!
Soveel so dat Christus uitroep:
“My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Daarom moet ons ook sonde haat.
Johann Peter Lange, ‘n 19e eeuse teoloog,
vertel die verhaal van ‘n keiser wat ‘n godsdienstige leier gehaat het.
Sommige van die keiser se raadgewers het gesê hy moet hom
in die tronk sit en verbrand.
Ander het gesê dit sal nie help nie.
Hy sal steeds ‘n tuiste by sy God vind.
Hy soen sy kettings in sy geloof.
En die dood maak die hemel vir hom oop.
Daar is net een manier om hom regtig te straf.
Verlei hom op een of ander manier om sonde te doen. Hy haat dit met sy hele wese.
Is dit waar van ons?
Haat ons niks in die wêreld meer as sonde nie?
Dit is nie genoeg vir ‘n tuinier om blomme lief te hê nie.
Hy moet ook die onkruid haat.
Ons word so gemaklik met dit wat sleg is en sonde is.
Ons doen dit in plaas van om dit te haat.
Kyk weer mooi wat sê die Psalm:
“Julle het die Here lief;
haat dan wat sleg is.”
Ernest