Gebed is ons belangrikste bediening.
Gebed is saam met die Woord die kragtigste wapen van ‘n gelowige.
Dit is ook die krag van die Christelike lewe.
Dikwels dink ons gebed is net ‘n manier van aanbidding van God.
Gebed is egter ons noodsaaklikste bediening aan mense.
Voor ons enige iets anders doen,
moet ons eers daarvoor bid!
En wanneer dit onmoontlik is om enige iets anders te doen,
kan ons steeds bid!
Wanneer ons daarmee besig is,
is ons besig met die belangrikste bediening.
Toe John Knox, stigter van die Presbiteriaanse kerk in Skotland,
reeds kritiek siek was, het sy vrou op sy sterfbed vir hom
sy gunsteling deel gelees, Johannes 17, die gebed van Jesus.
Terwyl sy lees, het hy spontaan begin bid.
Hy het vir sy medemense ingetree.
Hy het dringend gebid vir goddelose mense,
mense wat die evangelie verwerp.
Hy het gepleit vir mense wat onlangs tot bekering gekom het,
dat hulle sal groei in hul verhouding met God.
Hy het gebid vir God se kinders wat vervolg word.
Terwyl hy besig was om te bid het hy gesterf.
Terwyl hy gesterf het, het hy vir ander mense ingetree.
John Knox was die man van wie koningin Mary gesê het
sy vrees sy gebede meer, as die leërmagte van al haar ander vyande.
God se soldate veg die beste wanneer hulle op hulle knieë is!
Jesus het ook gewys hoe belangrik die bediening van gebede is.
In Lukas 22:32 sê Hy vir Petrus:
“Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie.”
Jesus het deur gebed net soveel vir Petrus gedoen,
as toe Hy hom tot dissipel geroep en aangemoedig het.
Bedien mense met jou gebede!
Ernest