Opregte gebed
‘n Pa het sy seuntjie saam met hom restaurant toe geneem.
Nadat hulle hul kos bestel en ontvang het,
het die pa gesê hulle moet sommer elkeen in stilgebed bid, voor hul eet.
Die pa het klaar gebid, en toe lank vir die seuntjie bly wag.
Nadat die seuntjie lank met geboë hoof gesit het,
kyk hy uiteindelik op.
Sy pa het dadelik gevra wat op aarde hy so lank gebid het?
“Hoe moet ek weet, pa het mos gesê dit is stil gebed”,
was die seuntjie se antwoord.
Baie van ons gebede is net soos hierdie seuntjie se gebed.
Ons sê nie regtig iets aan die Here nie.
Ons dink aan bekende woorde, ons gebruik herhalings,
en onopregte gewoonte-woorde.
Ons luister nie, en weet nie eers mooi wat ons bid nie.
Ware gebed vereis nie welsprekendheid nie,
maar opregtheid.
God vra van ons opregte gebede.
Dringende gebede uit ons harte.
Gebede onder leiding van die Heilige Gees.
Opregte gebede in eenvoudige taal.
Gebede wat in die Naam van Jesus na die Vader gebring word.
Filippense 4:6 sê:
“Maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking,
en met danksegging aan God bekend.”
Ons moet regtig gebed ernstig opneem.
Wanneer ons vir iemand sê dat ons vir hom bid,
dan moet ons dit regtig doen.
Anders moet ons dit glad nie eers sê nie!
Ernest